Die stamvader van die Du Plooys in
Suid-Afrika was Simon du Plooy van Krommenie in
Noord-Holland.
Die naam Du Plooy was oorspronlik die
Hollandse naam PLOIJER: 'n naam wat 'n beroep aandui en wel diè van
borselmaker. 'n "Ploijer" was in die dialek van die Zaanstreek, waarin
Krommenie lê, 'n sagte, langharige skuier of borsel. So 'n borsel was
ovaal, en dikwels versier met 'n handgreep van silwer of hertshoorn.
Mnr en mev Henk Hendrikse en Me. Annie
Hendrikse-Borremans het navorsing gaan doen in Noord-Holland om vas
te stel of die Nederlandse familie Ploijer (of Ployer) van Krommenie
en die Suid-Afrikaanse Du Plooys een en dieselfde familie is, en
hulle het gevind dat dit wel die geval is.
Ek gaan nie al die besonderhede van
hulle navorsing hier aanhaal nie: dit is uitvoerig beskryf in Familia
XIX 1982 no 3, of as iemand nader besonderhede verlang, kan
hulle my e-pos en ek sal dit aanstuur.
|
Let op hoe die mense
nie formele vanne gebruik het nie: hulle identiteit is aangedui
òf deur hulle beroep òf plek van herkoms, òf deur hulle vader
se naam.
So beteken Willem
Pieters of Pietersz dat Willem "Pieter se seun", of
Pieters-zoon, is. Insgelyks dui Maria Willems, Willemsd of
Willemsdr aan dat sy Maria Willemsdochter of "Willem se
dogter" is. |
Die oudste generasies Ploijers
in Noord-Holland wat die Hendrikses kon opspoor, is as volg:
1.
Claes PLOIJER (geen rekord van hom nie, maar ons weet wat sy
naam was aangesien sy seun as "Claeszoon" aangedui is.)
2.
Pieter Claeszoon PLOIJER, gebore omstreeks 1595 te Neck
naby Purmerend. Hy is oorlede voor 1659.
Hy het gewoon in "de
Heylige Weg", Krommenie. Sy erf was 11 roede groot en hy het aan
"verponding" betaal 16 stuivers en 8 duite per jaar. Daar is 'n
rekord van 'n notariële akte, i.v.m. 'n geskil wat hy met sy bure gehad
het weens die onderhoud van 'n brug tussen die Heylige Weg en Het Madt te
Krommenie. Die borselbesigheid moes taamlik betalend gewees het!
Hy was tweemaal getroud:
-
met Aftgen
Christiaans, op 26.12.1621
-
met Ytje Simons
(weduwee) op 5.3.1628
Pieter en Aftgen het
twee dogters, Annetje (1622) en Trijntje (1624); en by sy tweede vrou, Ytje,
het Pieter nog drie kinders, Grietje (1628), Marytje (1632) en laastens
ons voorvader, Pieter Pieterszoon PLOIJER.
3.
Pieter Pieterszoon PLOIJER is
gedoop te Krommenie op 24.2.1636. Sy beroep was "borstelmaker",
en hy is oorlede tussen 1673 en 1695.
-
Hy is op 26.11.1656, toe
hy 20 jaar oud was, getroud met Risje Willems. Sy was
die dogter van Willem Jansz van Cnollendam en sy vrou Piryne
Michiels. Risje is oorlede op 23 Februarie 1668.
-
Sy tweede vrou was Guurtje
Claesdr, die weduwee van Teunus Arentsz. Sy was die dogter van
Claes Pietersz en Geertje Taams. Hy was 33 en sy bruid was 27 toe
hulle in Krommenie getroud is op 14 April 1669.
Pieter en Risje het
ses kinders gehad: twee dogters, Aafjen (1659) en Aagt (1661), en drie
seuns: Willem (1657), Michiel (1662) en ons voorvader, Symon Pietersz,
gedoop te Krommenie op 29 Augustus 1666.
By sy tweede vrou, Guurtje,
het Pieter nog twee kinders gehad, Pieter (1671) en Risje
(1673).
As ons weer van Symon
Pietersz hoor, is hy in die Kaap. Kliek
"Aan die
Kaap" hieronder om die verdere wedervaringe van die Du Plooys
te volg:
Terug na bo